Wanneer ek nette oprig om voëls te vang, is my doelgroep gewoonlik Jangroentjies (= Malachite Sunbird Nectarinia famosa) en ander middelslag voëls. Tydens ’n onlangse besoek aan Ficksburg was dit egter ’n ander storie. Aangesien die klein veldaalwyntjies gedurende September blom, het ek dié keer my nette in die rantjies opgerig. Van Woensdag af was ek op my pos, wat ek al vir die afgelope vyf jaar besoek. Ek het vyf Jangroentjies gevang, maar Donderdag het ek moedeloos uur na uur na leë nette gestap. ’n Groot skok het vir my gewag in een van my nuwe, sterker nette – ’n Edelvalk (’n roofvoël vir die wat nie weet nie!) het vermoedelik ’n duif gejaag en is in die proses in my net gevang!